Boere in Zimbabwe gaan aan die einde van November ‘n spesiale kongres hou om ‘n oorlewingsplan vir die toekoms te bespreek, sê die Commercial Farmers’ Union (CFU).
Luidens ‘n berig op Zim-online het die organisasie in ‘n kennisgewing aan lede gesê na verwagting sal op ‘n nuwe strategiese plan en grondwet vir die organisasie besluit word.
Die kongres is op 30 November 2010 by die CFU-kantore. Dit volg nadat boere die afgelope dekade deur dié land se regering se kontroversiële grondhervormingsprogram geteister is en verskeie van hulle van hul grond verjaag is.
‘n Verslag oor lede se verwagtinge en opninies oor die herstruktuering van die organisasie sal ook by die kongres bespreek word. Mnr. Rob Ward, ‘n konsultant, het in Oktober ‘n opname hieroor onder lede van die CFU gedoen.
Voorlopige bevindinge van die opname wys dat slegs 32% van die CFU se lede steeds boer, terwyl 64% aangedui het dat hulle graag sal wil voortgaan met boerdery. Meer as 100 van die respondente het aangedui dat hulle meen die CFU voldoen aan hulle verwagtinge.
Bron: Zim-online
18 November 2010