
Suid-Afrika kan baie dankbaar wees dat hy, nou met die oorlog in Oekraïne, plase en boere het wat hom taamlik selfvoorsienend maak ten opsigte van voedsel.
Só het mnr. Glenn Silverman, beleggingstrateeg van die internasionale beleggingsonderneming RisCura, op ’n webinaar gesê wat Business Day oor die oorlog in Oekraïne se rimpeleffek in die wêreld gesê.
Die verreikende gevolge van die oorlog word deur baie mense as ’n skoenlapper-effek beskryf. Dit verwys na ’n fenomeen waar ’n klein gelokaliseerde verandering in ’n ingewikkelde stelsel ’n groot effek op ’n ander plek het.
Silverman het gesê hy weet volstruise kan nie vlieg nie, maar die wye en onverwagse gevolge laat hom meer aan ’n vlieënde volstruis as ’n skoenlapper dink. Die oorlog het as’t ware ’n uitwerking van Kiev in Oekraïne tot in die Karoo in Suid-Afrika.
Die oorlog het wêreldwyd ’n groot uitwerking op voedselvoorsiening. Een van die gevolge hiervan, wat eintlik ál met die uitbreek van die covid-19-pandemie kop begin uitsteek het, is dat lande meer selfvoorsienend wil raak, veral ten opsigte van voedsel.
Die oorlog skep dus groot geleenthede in die landbou en voedselverskaffing. “Boere het nog altyd moeilike tye beleef, ten opsigte van onder meer weerstoestande, maar hulle is eintlik in ’n magtige posisie. Die feit dat ons byna selfvoorsienend is rakende voedselvoorsiening, is regtig belangrik.”
Silverman sê daar is mense wat nou reken globalisering het reeds ’n tyd gelede sy hoogtepunt bereik.
Voorsieningskettings ’n gemors
’n Ander belangrike internasionale uitkringeffek van die oorlog is die probleme met internasionale voorsieningskettings.
Covid-19 het reeds probleme veroorsaak, maar die oorlog het die kettings nou só ontwrig dat ontleders praat van jare pleks van maande voordat dit weer beter sal raak. Dit kan selfs erger raak as tans.
Die voorsieningskettingsprobleme dra by tot die skaarsheid van goedere. Silverman het as voorbeeld gebruik dat hy ’n nuwe motor wil koop, maar hy moes hoor dat hy 12 tot 18 maande sal moet wag omdat sekere dele van die motor nie beskikbaar is nie.
Inflasie ‘ongeanker’
Skaarsheid jaag inflasie op. In Duitsland was die produsenteprysindeks in Duitsland onlangs 30% hoër. Ondernemings moet besluit of hulle dié prysverhogings gaan deurgee, of dit gaan absorbeer en die gepaardgaande skade gaan ly.
Volgens Silverman is inflasie nou reeds in die samelewing ingebed en is dit ongeanker. Mense verwag dat pryse gaan styg en probeer daarom vooruit goedere koop. Vakbonde stel reeds hoër salariseise.
Inflasie is veral in die Weste ’n probleem. Ekonomiese groei is reeds stadiger en gaan na verwagting nóg verder afneem.
Rentekoerse styg
Inflasie dra op sy beurt by tot rentekoersverhogings, wat nou wêreldwyd voorkom, juis in ’n tyd dat skuld op rekordhoë vlakke is.
In Amerika was rentekoerse soveel jare laag tot negatief dat dit vir die sentrale bank baie moeilik is om koerse sonder groot nadelige gevolge te verhoog.
Silverman het lof gehad vir die Suid-Afrikaanse Reserwebank wat rentekoerse baie gepas, baie stadig en deurlopend verhoog.
Oor die moontlike geleenthede wat die oorlog skep, het hy gesê die feit dat Suid-Afrika geografies ver van die oorlog af is, kan in sy guns tel om beleggings te lok, mits die land aandag gee aan kwessies soos misdaad, korrupsie, burokrasie en die gemak waarmee sake gedoen kan word.