
Twintig leierboere vanuit nege belangrike landbouproduserende lande het Zambië op ’n feietesending besoek as deel van Rabobank se Global Farmers Master Class.
Die doel van die weeklange program was om die potensiaal van Zambië se landbousektor te bekyk en die uitdagings van dié land se boere te bespreek. Die Verenigde State van Amerika, Nieu-Seeland, Ierland, Brasilië, Kenia, Mosambiek, Chili, Nederland en Australië is verteenwoordig.
Dit was Rabobank se derde program van dié aard, met vorige byeenkomste wat in 2012 in Nederland en 2014 in Australië plaasgevind het. Die doel is om van die wêreld se voorste boere byeen te bring om wêreldwye voedselsekuriteit aan te spreek.
“Afrika se bevolking sal na verwagting oor die volgende 30 jaar van sowat een miljard mense tot twee miljard mense groei en die vasteland voer reeds 20% van sy kos in. Zambië het uitgestrekte gebiede bewerkbare grond met genoeg water vir besproeiing, met groot Afrika-riviere wat deurvloei. Daar is reuse potensiaal vir voedselproduksie, sê me. Jane Nugent-O’Leary, ’n deelnemende suiwelboer van Nieu-Seeland.
“Ons het die geleentheid gehad om ’n fassinerende verskeidenheid boere te besoek, met hulle te gesels, endit dan onder mekaar te bespreek uit ’n internasionale perspektief,” voeg sy by. Die houding van Zambiese boere en ander belanghebbendes in die bedryf is grootliks positief, sê sy.