Die Oos-Kaapse wolproduksie van 14,3 miljoen kilogram, wat 31% van die land se skeersel verteenwoordig, maak dit nou die grootste in die land.
Dit is ook die enigste provinsie waar produksie verlede seisoen met 3,46% toegeneem het, terwyl die land se skeersel met 4,6% afgeneem het, sê mnr. Billy van Zyl, voorsitter van die Oos-Kaapse tak van die NWKV.
Die grootste wolproduserende distrik is Barkly-Oos wat 6,28% van die Oos-Kaap se totaal bydra het, gevolg deur Cradock (5,85%) Dordrecht (4,8%) Somerset-Oos (4,46%,) Burgersdorp (4,11%) en Tarkastad (3,2%).
Kan nog uitbrei
Van Zyl sê daar lê verdere uitbreidingsmoontlikhede in veral die besproeiingsgebiede van die provinsie. In die voormalige Transkei het produksie ook van 2,8 miljoen kg tot 3,5 miljoen kg in die 2010/’11-seisoen toegeneem, wat ’n styging van 19% verteenwoordig.
Hy meen dat die wolbedryf danksy die mark wat op ’n baie hoë vlak beweeg, ’n bloeitydperk betree en dat dit ’n bydrae tot verhoogde wolproduksie sal lewer. “Natuurlike vesel sal áltyd ’n plek in die wêreld hê en as wolprodusente moet ons nóóit ophou om in ons produk te glo nie.”
Daar is ook besluit om in plaas van elke jaar een streeksvergadering te hou dit af te wissel met ’n “roadshow” in die kommunale en kommersiële distrikte.
22 Maart 2012