
Die verskil tussen die dag- en nagtemperature in die Oos-Kaap is nog heeltemal te groot om gunstige toestande vir donderweer skep, sê mnr. Douglas Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap.
Stern sê die nagtemperatuur op sy plaas by Graaff-Reinet het verlede week tot -4 grade Celsius gedaal. “Hoewel neerslae van tot 40 millimeter verlede week in die Noordoos-Kaap voorgekom het, wat verlede jaar die ergste deur El Niño getref is en dit ook tot 20 millimeter langs die kus gereën het, is feitlik geen neerslae oor die Westelike dele van die binneland aangeteken nie. Dit sluit die distrikte van Adelaide, Cradock, Graaff-Reinet tot by Aberdeen in,waar die droogte reeds ramp-afmetings begin aanneem.”
Stern is bekommerd dat voer baie skaars en duur is en sybokhaarpryse sover die seisoen skerp teruggesak het. Hy sê boere is steeds besig om hulle veekuddes te verminder en dit die rede is waarom rooivleispryse ten spyte van vroeëre voorspelling dat dit nou baie duurder sou wees, nie gerealiseer het nie. “Pryse sal eers verbeter wanneer algemene reën uitsak, maar sal ook nie bomatig styg nie omdat verbruikers nie geld in hulle sak het nie.”
Prof. Peet Pienaar
Die “boere-weerprofeet” prof. Peet Pienaar het onlangs aan Landbouweekblad gesê dat die sterk suidoostelike wind die kanse op neerslae in die droogtegeteisterde binneland verskraal.
Intussen het die vlak van die Kougadam by Patensie tot 58,59% gedaal. ’n Jaar gelede het die dam nog oorgeloop. Mnr. Leon Grundling, bestuurder: waterbeheer van die Gamtoos-besproeiingsraad (GBR) sê hoewel geen waterbeperkings nog vir besproeiingsboere geld nie, daar vertrou word dat die beroep dat inwoners in die Nelson Mandela Metropool hulle verbruik met 15% inkort, wel aan gehoor gegee sal word.
Besproeiingsboere in die Visriviervallei hou ook asem op dat die watervlak in die Gariepdam, wat verlede Vrydag op 47,18% te staan gekom het binnekort sal styg. Volgens mnr. Dries Visser, hoofingenieur: sentrale operasionele gebied in Bloemfontein is daar reeds in Julie besluit om landbouwater vir 2016/’17 uit dié bron met 15% in te kort.