
Luidens die berig is dit die tweede keer in byna ’n jaar dat mnr. Ig Maas (73) op sy plaas aangeval is. Verskeie veiligheidsmaatreëls, onder meer ’n kamerastelsel, is by sy huis aangebring.
Maas het aan Netwerk24 gesê Woensdagaand omstreeks 20:00 het hy onraad begin vermoed het toe sy diere, ’n mak ribbok en honde, buite die huis onrustig begin raak het. Hy het op die kamerastelsel gesien hoe die verdagte oor sy grensmuur klim en na die plaashuis beweeg.
Maas het op ’n noodgroep op sy selfoon om hulp gevra. Toe hy die huis verlaat, het die verdagte glo op hom afgestorm met ’n mes. Maas het hom uit noodweer geskiet. Die verdagte is op die toneel dood.
Adj.off. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak van moord na aanleiding van die voorval ondersoek word. Nkohli het geen verdere besonderhede oor Maas se betrokkenheid gegee nie.
Volgens hom is die polisie Woensdagaand omstreeks 21:45 na die toneel ontbied. Niemand is in hegtenis geneem nie.