Ná verwoestende brande groot skade in die Oos-Vrystaat aangerig het, is die streek verras met sneeu op die berge die afgelope naweek.
Honderde duisende hektare veld het afgebrand in dié omgewing sedert die begin van September. Luidens ‘n berig op News24.com is die streek van een uiterste na die ander toe sneeu oor die naweek die Malutiberge bedek het, en temperature gedaal het.
Vreemde weerstoestande
Mnr. Aslam Sardiwalla, ‘n weerkundige van Bloemfontein, sê hulle het vreemde weerstoestande voor die sneeu opgemerk. Hy sê die koue toestande is nie vreemd vir dié gebied nie, maar dit is nie waaraan hulle gewoond is nie.
Sardiwalla sê die wind het uit ‘n suidelike rigting gewaai, wat gewoonlik in die winter voorkom. Sneeu het in Lesotho, die Oos-Kaap en die Drakensberge geval.
Sardiwalla voorspel egter nie goeie reën vir die gebied die week nie, slegs sowat 30% Maandag (18 Oktober 2010).
Letseng
Intussen is foto’s van dik sneeu by die Letseng-diamantmyn in Lesotho aan Landbou.com gestuur. Volgens mnr. Ray Ferraris het dit tussen 18:00 en 19:30 Vrydagaand gesneeu, met 5cm se sneeu wat voorspel is.
Mnr. Dirk Viljoen, die voorsitter van die Bethlehem-boerevereniging, sê die sneeu het basies net op die berge geval en boere wag nou angstig vir reën.
Warmer temperature is wel Maandag in die distrik aangeteken.
18 Oktober 2010