Die Adelaide-vier, ook bekend as die drie boere en ’n Griek, wat tans die duisende kilometers na Kaïro aflê om geld in te samel vir dié dorp se plaaslike hospitaal, het al verskeie probleme ondervind, maar die jongste is ’n motorfiets wat middeldeur gebreek het.
Die groep op pad in Tanzanië. Foto: VERSKAF
Op die vyftiende dag (14 April) van hul avontuur, nadat hulle reeds 6 208 km afgelê het, het mnr. Norman Emslie, een van die boere, se motorfiets middeldeur gebreek. Mnr. Rufus Dreyer, ’n ander boer, vertel toe hulle by Emslie kom, het hy op die gebreekte fiets tussen die brandstoftenk aan die voorkant en sy bagasie aan die agterkant, vasgesit.
Die groep was op pad van Iringa, deur Dodoma na Arusha in Tanzanië, op ’n baie slegte pad “toe Norman se motorfiets besluit het dit was genoeg”. Die groep het gedink dit was die einde van Emslie se toer.
Boer(e) maak ’n plan
Dreyer het egter opgemerk “ons het ’n sweismasjien nodig en ons kan ’n plan maak”, en die groep het met nuwe moed ’n plan begin beraam. Mnr. Richard Bennet, die derde boer, het op die naaste dorp hulp gaan soek. Hy het saam met ’n groep plaaslike inwoners na sy mede-reisigers teruggekeer.
Die motorfiets is na die dorpie vervoer, waar die drie boere met die plaaslike nutsman se toerusting aan die werk gespring het. Mnr. Stelios Georgiou, die Griek, het intussen die ander motorfietse opgepas.
Die Malawi-meer teen sonsondergang. Foto: VERSKAF
Ná vier uur se intensiewe werk het die drie boere die motorfiets herstel en het die groep hul reis hervat. Dreyer sê hulle het teen 21:00 dié aand net tot by Dodoma gevorder, maar: “’n Koue bier het nog nooit so goed gesmaak nie!”
Altesaam R47 864,00 is al vir die projek bymekaar gemaak. Die groep hoop om R1,2 miljoen in te samel.
Vir meer inligting besoek die groep se webtuiste.
15 April 2011