
Die publiek kan nou self bydraes lewer of wetgewing wat sedert die demokratiese bestel deur die Parlement deurgevoer is, hul lewens enigsins verbeter het.
Die openbare verhore, wat die onafhanklike wetgewende paneel onder leiding van oud.pres. Kgalema Motlanthe hou, begin (Dinsdag, 16 Augustus) in die Oos-Kaap.
Dié paneel wat uit 17 hoogstaande landsburgers saamgestel is, is deur die Parlement in die lewe geroep om vas te stel of sekere ingestelde wetgewing werklik hulle doelstellings bereik het. Daar word spesifiek gekyk na wetgewing rakende die driedubbele uitdaging van armoede, werkloosheid en ongelykheid; die skep van gelyke verdeling van rykdom, grondhervorming, restitusie, die herverdeling van grond en sekerheid van verblyfreg; en nasiebou en versoening.
Die openbare verhore in die Oos-Kaap word Dinsdag en Woensdag (16 en 17 Augustus) by die Abbotsford Christian Centre in Abbotsford, Oos-Londen, gehou. Op 20 en 21 September kom die Noord-Kaap aan die beurt, 19 en 20 Oktober die Vrystaat, 21 en 22 November Gauteng. Volgende jaar kom Mpumalanga op 18 en 19 Januarie aan die beurt, Limpopo 30 Januarie en 1 Februarie, die Noordwes 28 Februarie en 1 Maart en KwaZulu-Natal 28 en 29 Maart. Die datum vir wanneer openbare verhore in die Wes-Kaap gaan plaasvind, is nog nie bekend nie.
Skriftelike kommentaar oor hoe wetgewing jou lewe verbeter het, watter probleme daar met die toepassing van wetgewing bestaan en wat die gapings is wat gevul moet word, kan nog tot Saterdag 20 Augustus na highlevelpanel@parliament.gov.za gestuur word.