
Groot opgewondenheid heersoor die kurperbedryf se vinnige groei in Suid-Afrika. Volgens mnr. Leslie Ter Morshuizen van Aquaculture Innovations, bestaan daar ’n mark vir kurpers waaraan die kwynende sardienmark nie meer kan voorsien nie. Indien hierdie mark goed ontwikkel, is die verwagting dat Suid-Afrika ’n mark sal hê vir meer as 350 000 ton kurpers per jaar.
By die Wêreld Akwakultuurkonferensie, wat van 26 tot 30 Junie in Kaapstad aangebied is, was hierdie opgewondenheid egter effens geblus toe die mislukte kabeljoubedryf aangeroer is. Volgens prof. Krishen Rana, buitengewone professor verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, staan regeringsbeleid dikwels in die pad van vooruitgang van die bedryf.
Mislukte vinvis-bedryf
“In Afrika volg ons dikwels ’n Eurosentriese benadering tot beleid. Ons help nie onsself met onpraktiese beleide wat nie plaaslike realiteite in ag neem nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die verwagting van die Suid-Afrikaanse Regering dat die vinvis-boerderybedryf vanaf 2007 tot 2017 sou groei tot ’n bedryf wat 40 000 ton vis jaarliks produseer en meer as 8 000 werkgeleenthede sou skep. Hierdie bedryf dobber steeds rond op ’n jaarlikse produksie van 700 ton en daar is tussen 30 en 40 werkgeleenthede in hierdie bedryf geskep oor die afgelope 10 jaar,” verduidelik Rana.
Volgens dr. Seamus Murphy, ’n navorser vir die WorldFish, ’n nie-regeringsorganisasie wat regdeur Afrika ontwikkelingswerk in akwakultuur doen, is akwakultuur in Afrika gesond, maar daar is heelwat rooi ligte wat flikker.
Bemark reg
Akwakultuurproduksie in baie Afrika-lande het oor die afgelope dekade astronomies gegroei, maar volgens Murphy is baie van hierdie groei nie winsgewende groei nie en is baie kapitaal deur buitelandse beleggers in Afrika-lande gestort, wat produksiegroei aanvuur.
“Dit is nie noodwendig die vraag na visprodukte wat hierdie groei dryf nie. Dit wil nie sê dat die vraag na visprodukte nie bestaan nie. Dit is egter noodsaaklik dat bemarkingsmodelle goed ontwikkel word met die realiteite en unieke produksie- en bemarkingvereistes van elke streek in die oog.
“In Egipte is daar ’n enorme mark vir graad twee en drie kurpers, wat kleiner as die graad een is. Die inkomste per kilogram van graad een kurpers, noop die boere om die kurpers eerder te laat uitgroei. Dit is nie altyd kostedoeltreffend nie en doen ook min vir die voedselsekuriteit van die armes,” verduidelik Murphy.