
Die beoogde opknappings sal na verwagting onder meer die Durban-hawe se kapasiteit vir vraghouers tot 11,4 miljoen eenhede verhoog, sê mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV).
Die Transnet-hawe-owerheid (TNPA) het vanoggend aangekondig dat sy direksie die planne vir opknappings by KwaZulu-Natal se hawens goedgekeur het. Dié planne vorm deel van ’n groter logistieke program van meer as R100 miljard om Durban as ’n internasionale knooppunt vir skeepsvrag te posisioneer.
Chadwick sê dié aankondiging is een van verskeie gunstige ingrypings wat TNPA beoog ten einde bedrywighede by Suid-Afrika se hawens te verbeter. “Die SKV kan bevestig dat bedrywighede by Suid-Afrika se hawens die afgelope paar maande redelik goed verloop met die meeste struikelblokke wat vinnig deur die belanghebbendes, onder meer Transnet, uit die weg geruim word.”