’n Opkomende beesboer van Noordwes is op pad na Amerika nadat hy as die beste opkomende beesboer gekroon is.
Luidens ’n verklaring is mnr. Clifford Nkokou van Ganyesa onlangs as ABSA en die Landbounavorsingsraad se beste nasionale opkomende beesboer van 2011 aangewys.
Nkokou het twee ander boere, onderskeidelik van Limpopo en Mpumalanga, uitgestof. Hy het ’n trofee, ’n sertifikaat en ’n reis na Amerika gewen.
Die kompetisie word deur die Landbounavorsingsraad gekoördineer om aan opkomende boere die kans te bied om met ander opkomende en gevestigde boere skouers te skuur.
Dit bied ook aan hulle netwerk-geleenthede om uit te vind oor die beste praktyke en hoe om hul eie boerderye te verbeter.
Dankbaar
Nkokou is baie bly oor dié toekenning. “Ek het veeboerdery betree deur ’n lening van die Land Bank te bekom waarmee ek ’n paar Bonsmara-teeldiere gekoop het.
"Die stap van Noordwes se departement van landbou en landelike ontwikkeling om die inheemse Nguni-ras in die provinsie in te bring, het nuwe asem in my boerdery ingeblaas. Ek is nou die trotse eienaar van 24 Nguni’s,” sê Nkokou.
Tydens die oorhandigingseremonie is Nkokou aangemoedig om lid te word van die nasionale departement se Kaonafatso Ya Dikgomo-skema. Dié skema het meer as 1 400 lede en ondersteun beesboere om hul bedryf te verbeter.
’n Bykomende voordeel is dat die skema jaarliks outomaties al sy lede vir dié kompetisie inskryf.
8 November 2011