
Opkomende boere by Phuthaditjhaba is totaal uitgelewer aan veediewe en ontvang min of geen ondersteuning van die polisie nie. Dit is die slotsom waartoe Vrystaat Landbou en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) tydens ’n imbizo oor veediefstal in die omgewing gekom het.
Die imbizo is op 15 Februarie by die Phuthaditjhaba-polisiekantoor aangebied en bygewoon deur LUR’e, asook teenwoordigers van Vrystaat Landbou, die RPO, die polisie, tradisionele leiers en die plaaslike munisipaliteit.
Daar is op die imbizo aangedui dat die mense wat die gebied patrolleer om die polisie só te help om veediefstal te bekamp, kla dat hulle nie genoeg hulpmiddele tot hul beskikking het nie.
Mnr. Nico Buys, voorsitter van die RPO in die Vrystaat, het gesê die opkomende boere was baie ontevrede met die dienslewering van die polisie en die veediefstaleenheid. Klagtes het gehandel oor swak reaksietyd, swak bywoning van misdaadtonele, weinig tot geen terugvoer op sake en die aantal misdadigers wat uit Lesotho werk en nie in hegtenis geneem word nie.
Volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou, het kommersiële boere in die Vrystaat dieselfde frustrasies en ontevredenheid as die opkomende en bestaansboere oor veediefstal wat al jare lank in die Vrystaat toeneem.
“Qwaqwa val onder die grensgebied en is ’n hoëmisdaadgebied vir veediefstal. Die feit dat veediefstal toeneem, terwyl die polisie geen strategieë en planne het dit doeltreffend aan te pak nie, kan daarop dui dat die betrokkenheid van polisielede by die misdaad groter is as wat aanvanklik vermoed is.”
Sy het gesê dat VL en die RPO al jare lank skriftelike klagtes na die provinsiale en nasionale polisie stuur oor die tekorte aan mannekrag, voertuie en toerusting by veediefstaleenhede. Daar is tekorte aan grenspatrollies en kapasiteit by die polisie om hul landelike veiligheidskoördineerders en kantore langs die Lesothogrens te bemagtig ten einde die weermag help om oorgrensveediefstal te bekamp.
Volgens Nico het mnr. William Bulwane, LUR van polisie, paaie en vervoer, onderneem om in die komende maand twee voertuie vir die patrolleerders beskikbaar te stel, met hul eweknieë in Lesotho te vergader en aandag te gee aan die kwessie van kringtelevisiekameras in die grensgebied waarvoor reeds betaal is, maar wat nog nie geïnstalleer is nie.
“Vrystaat Landbou en die RPO hoop dat die onderneming van die LUR nie net leë beloftes sal wees nie, maar dat dit goeie resultate vir die landbousektor in die gebied sal lewer.”