Die Land Bank gaan oor die volgende twee jaar ’n miljard rand meer aan opkomende boere uitleen.
Mnr. Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van die bank, het dié onthulling gemaak tydens die bekendmaking van die Land Bank se finansiële resultate. Die geleentheid is by die Reserwebank in Pretoria gehou.
Belange van kleinboere
Die fondse gaan gehanteer word deur ’n nuwe sake-eenheid wat spesifiek na die belange van kleinboere moet omsien. “Dit gaan nie oor die swartheid van ’n boer nie, maar om sy of haar omstandighede. In alle waarskynlikheid sal niemand in dié saal daarvoor in aanmerking kom nie,” het Hadebe aan die gehoor gesê.
Dié aankondiging is gemaak te midde van finansiële resultate wat ietwat minder blink as die vorige jaar s’n vertoon. Die bank se groepswins het met 24,5% gedaal vanaf R3,791 miljard tot R2,861 miljard. Dít terwyl sy inkomste met 4,8% toegeneem het tot R6,882 miljard (2010: R6,565 miljard).
Minder slegte skuld
Die bank het sy kontantvloeiposisie met 10,5% verbeter. In die vorige jaar het die instansie R1,9 miljard beskikbaar gehad. Vanjaar is sy kontantreserwes R2,1 miljard.
Die bank het dit reggekry om sy slegte skuld met 5,6% te verminder. Verlede jaar is lenings van R1,7 miljard nie gereeld deur kliente afbetaal nie. Vanjaar staan die syfer op R1,8 miljard.
2 September 2011