Die nuwe organisasie vir opkomende boere, die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), is gister in Boksburg gestig. Mnr. Mike Mlengana, ’n bekende sakeman en groep uitvoerende hoof van sake-ontwikkeling by Telkom, is tot die eerste president verkies.
Terselfdertyd is ’n raad van direkteure gekies, waarvan mnr. Job Mthombeni van Mpumalanga die voorsitter is. Die rol van president sal dié van ’n openbare figuur namens die organisasie wees, terwyl die raad van direkteure die uitvoerende gesag sal vorm.
Die vereniging sal as ’n artikel 21-maatskappy geregistreer word en dien as ’n teenvoeter vir Nafu SA.
Die stigtingsvergadering sou aanvanklik deel gewees het van ’n vernuwingsplan vir Nafu SA onder leiding van mnr. Aggrey Mahanjana, groephoofbestuurder van die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo).
Verlede week het die Nafu-leierskorps egter ’n Hooggeregshofbevel bekom wat Mahanjana en Nerpo verbied het om die vergadering in Nafu se naam te hou of Nafu daaraan te koppel.
Die byeenkoms, wat deur sowat 2 500 mense by die luukse Birchwood- konferensiesentrum, bygewoon word, is toe verander in ’n “stigtingsvergadering van ’n nuwe vereniging vir Afrika-boere van Suid-Afrika”.
13 April 2011