Opkomende boere in Mpumalanga het steeds nie 85 trekkers, ter waarde van R50 miljoen, ontvang wat vier maande gelede reeds aan hulle belowe is nie.
Luidens ‘n berig op News24.com het pres. Jacob Zuma en me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, die trekkers aan die provinsiale departement oorhandig. Die trekkers kon egter nie onmiddellik aan die boere gegee word nie, aangesien die voertuie nie gelisensieer was nie.
Me. Janine Julies, ‘n woordvoerder vir die departement, het Woensdag (27 Oktober) bevestig dat die trekkers nou wel gelisensieer is, maar sy kon nie sê wanneer hulle aan die boere oorhandig sal word nie. “Ons kan nie die datum bevestig nie, maar dit sal binnekort wees.”
Julies sê die lisensies was glo ook nie die enigste rede vir die sloerdery nie. Daar is glo vroeër besluit dat die trekkers eers uitgedeel sal word sodra die reënseisoen begin het. Sommige boere sê hulle eerste reëns het al reeds in September geval, en aangesien dit al amper November is, het baie boere al begin plant.
Die trekkers moet uitgedeel word aan boere in die omgewings van Ehlanzeni, Gert Sibande en Nkangala. Dié stap vorm deel van die Regering se masibuyele emasimini (bewerk die grond)-program.
Dit is ‘n nasionale projek waarvolgens tuintoerusting, trekkers en ander implemente aan boere voorsien word sodat hulle hul produksie kan verbeter en produkte aan plaaslike en internasionale markte kan bied.
29 Oktober 2010