
Landbouvoorligting bestaan byna nie meer in Suid-Afrika nie, veral nie vir kommersiële boere nie, daarom is gewasprodusente toenemend afhanklik van private raadgewers om inligting te kry.
“Daar is meer as 800 van hulle in die bedryf en ’n groot persentasie het die ervaring, maar nie die regte kwalifikasies nie,” het dr. Charlie Reinhardt, dekaan van die Villa Academy, gesê tydens die bekendstelling van dié opleidingsinstansie se kortkursusse vir volgende jaar. Dis gemik op tegnici, veldwetenskaplikes en verkoopsagente.
“Die landbou-omgewing verander. Produsente raak minder, maar groter en moet meer doeltreffend wees. Hulle maak staat op die beste kennis om die situasie suksesvol te hanteer. Plaaslik vind ons daar is groter druk op die tradisionele opleidingsinstellings om internasionaal relevant te raak, maar ons is nog relevant met plaaslike kundigheid.”
Die Villa Academy het in die plaaslike chemiese bedryf ontstaan. “Daar is ’n probleem om plaaslike mense op te lei, maar niemand doen iets daaraan nie.” Die instelling, met 28 dosente, bied sowat 29 kort kursusse per jaar aan. Die kursusse het ’n teoretiese grondslag, maar fokus sterk op praktiese probleemoplossings. Dit word in beide Kempton Park en Somerset-Wes aangebied.
Hulle het ook aansoek gedoen by die Departement van Hoër Onderwys om die instelling as tersiêre instansie te akkrediteer sodat ’n jaarlange kursus en driejaarlange diplomakursus aangebied kan word. Ses beurse is hiervoor beskikbaar.
Die instelling het ook onlangs Chenin blanc-, Sauvignon blanc-, Cabernet Sauvignon- en Merlot-wingerd by die Hoogeind-opleidingsfasiliteit in Somerset-Wes geplant. Die wingerd is bedoel vir proewe in die wingerdboukursus wat dr. Eben Archer aanbied, maar sal ook vir wynbereiding gebruik word. Die opbrengs uit wynverkope sal in die Pneumatix-program teruggeploeg word.