Veranderinge en oplossings is altyd moontlik, maar dan moet partye verby hul eie nasionale belange kyk in hul soeke na globale oplossings, sê pres. Jacob Zuma.
Hy het tydens die amptelike opening van COP 17, die internasionale klimaatberaad in Durban, gesê verskillende lande het verskillende sieninge oor klimaatsverandering omdat die invloed daarvan in die onderskeie wêrelddele verskil.
“In Afrika is dit ’n kwessie van lewe of dood.” Volgens hom is Afrika meer kwesbaar omdat armoede mense se vermoë om te kan aanpas, beperk.
Zuma het gesê van Suid-Afrika se bydraes tot ’n “groen ekonomie” sluit in ’n ooreenkoms met die Demokratiese Republiek van die Kongo vir die skep van ’n hidro-elektriese projek wat meer as die helfte van Afrika van krag sal voorsien.
Die beraad, wat deur sowat 15 000 verteenwoordigers uit bykans 200 lande bygewoon word, bestaan uit twee dele. Aan die een kant is daar COP 17, wat die sewentiende byeenkoms is van lande wat betrokke is by die Verenigde Nasies se raamwerk-konvensie oor klimaatsverandering (UNFCCC), en aan die anderkant is dit ook die sewende vergadering van lande wat die Kioto-verdrag oor klimaatsverandering onderskryf het.
1 389 joernaliste doen verslag
Altesame 1 389 joernaliste van oor die wêreld het geregistreer om oor die volgende twee weke oor die verrigtinge verslag te doen.
Zuma sowel as me. Christiana Figueres, uitvoerende sekretaris van die UNFCCC, het verwys na Suid-Afrika se onderhandelings vir ’n nuwe politieke bedeling in die vroeë jare negentig en het dit as voorbeeld voorgehou oor wat bereik kan word.
Suid-Afrika het daarin geslaag om, teen alle verwagtinge in, ’n nuwe politieke bedeling deur onderhandeling te beding en daardeur die wêreld se model geword vir onderhandelings met die oog op ’n beter toekoms, het Figueres gesê. Sy sê Suid-Afrika se voorbeeld kan as inspirasie dien vir die volgende twee weke se onderhandelinge.
28 November 2011