
Oplossings vir boere, deur boere. Dít is die idee agter Landbouweekblad se “Oplossing vir die Landbou”-konferensie wat op 30 en 31 Oktober in Bloemfontein aangebied word.
Van die skerpste breine in die landbou, die sake- en sportwêreld kom vir twee dae bymekaar om te praat, te debatteer en te besin oor wáár die antwoorde lê vir ’n bedryf wat ’n drastiese afname in boeregetalle oor die afgelope 20 jaar gesien het.
“Ten spyte daarvan dat ons van die beste boere ter wêreld het, het hul getalle van omtrent 120 000 in die 1980’s tot sowat 35 000 geval,” sê Chris Burgess, Landbouweekblad se hoofredakteur: “Boere het ’n groot geleentheid om te leer van sakelui wat in vandag se strawwe omstandighede gedy.”
Onderwerpe onder bespreking sluit in grondhervorming, energie, grondbewaring en -bewerking, beesboerdery en tydsbestuur. Onder die sprekers is Louis van der Watt, wild- en beesboer en stigter van die Atterbury-groep, wat groot sukses behaal het met die ontwikkeling van winkelsentrums en sakegeboue, en die voormalige Springbokafrigter en bestuurskenner Nick Mallet.
Uit boerderygeledere is daar Charl Senekal, Suid-Afrika se grootste suikerrietboer en energie-pionier, Vito Rugani, die land se grootste wortelboer en arbeidspesialis, en Anthony Muirhead, die vader van minimumbewerking in Suid-Afrika. Landbouweekblad-rubriekskrywer Gerrit van Zyl kom vertel hoekom hy as een van die land se voorste beesboere beskou word. Theo de Jager, Agri SA se ondervoorsitter en die dryfveer agter die landbou se grondplanne, kom doen verslag oor hoe boere sake rakende grond behoort te benader.
Wetenskaplike bydraes sluit in die top-veekundige dr. Michael Bradfield, Rikus Kloppers, vooraanstaande plantpataloog van Pannar, Stephanus Malherbe, die jong laboratoriumhoof van die groot landboumaatskappy ZZ2, en Adriaan Dreyer van SGS NviroCrop, ’n baanbreker in minimumbewerking in die westelike saaigebiede. Woolworths se Kobus Pienaar sal kom gesels oor dié supermarkreus se benadering tot volhoubare landbou en Harold Burgess van die die Dawn Energie-groep sal kom vertel hoe jy energiedoeltreffend kan boer sonder om ’n sonpaneel te installer.
Dit is beslis ’n geleentheid wat elke boer behoort by te woon.
Landbouweekblad se mede-borge is die Universiteit van die Vrystaat, Mutual&Federal Agri, Pannar en John Deere. Plek: Universiteit van die Vrystaat, in die nuwe gebou van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe – oorkant die Wynand Mouton-teater. Datum: 30-31 Oktober 2014 Koste: R1 710 per persoon (BTW ingesluit); 15% afslag vir groepbesprekings van 20 of meer mense en 12%-afslag vir besprekings voor 31 Augustus. Kontak Patricia Potgieter vir bespreking of meer inligting by tel. 021 406 2298021 406 2298 of ppotgiet@landbou.com Verblyf: Kontak Landbouweekblad se reisklub vir opsies – tel. 011 886 9545011 886 9545 of e-pos: landbou@megatrav.co.za