
Die departement van kommunikasie en inligtingstelstels het onderneem om die protokol vir die verkryging van toegang tot plase te volg nadat werknemers van ’n diensverskaffer wat tans besig is met ’n meningsopname vir dié departement sonder waarskuwing op plase opgedaag het.
Die doel van die meningsopname is om vas te stel wat mense dink van die regering se prestasie in sleutelsektore soos onderwys en landbou. Kutu Intelligence Services is die diensverskaffer wat die meningsopname namens die departement behartig.
Me. Laticia Masia, adjunkdirekteur van die departement, het aan Landbou.com gesê die departement was nie bewus dat werknemers van die diensverskaffer sonder om ’n afspraak te maak op plase opgedaag het nie. Die departement was ook nie daarvan bewus dat die werknemers nie behoorlik identifiseerbaar is nie.
Sy het gesê die departement het intussen die diensverskaffer van die protokol ingelig en opdrag gegee dat dit nagekom word. Die diensverskaffer moet vooraf ’n lys aan die departement voorsien van watter plase sy werknemers van plan is om in ’n week te besoek.
Mnr. Kobus Visser, beleidshoof vir landelike veiligheid van Agri SA, het bevestig dat die organisasie met Masia in kontak was en aan haar die protokol vir die verkryging van toegang tot plase verskaf het. Die departement is ook versoek om eers Agri SA se provinsiale filiale in kennis te stel voor die diensverskaffer opnames in die onderskeie provinsies onderneem.
Die kennisgewing oor die meningsopname is hier beskikbaar.