’n Grootskaalse opruiming van plaagdoders word vir die Wes-Kaap en die Vrystaat beoog.
Sedert 2006 is uitgediende plaagdoders in Limpopo versamel en vernietig. Die opruiming word deur die Departement van Omgewingsake se Afrikavoorraadstapel-program (AVP) bestuur.
Dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum en konsultant vir die Plantbeskermings- en Dieregesondheidsvereniging (Avcasa), sê die geld wat die Wêreldbank vir dié aksie bewillig het, is net genoeg om twee ander provinsie se plaagdoders te verwyder.
“Die betrokke provinsies is gekies omdat die Wes-Kaap hoofsaaklik landbouprodukte uitvoer en die Vrystaat as die belangrikste graanprovinsie bestempel kan word,” het Verdoorn gesê.
Avcasa gaan eersdaags inligting oor uitgediende plaagdoders insamel. “Boere in die Wes-Kaap en die Vrystaat word aangemoedig om inligting te verskaf sodat hulle kan voordeel trek uit die opruimingskema.”
Boere kan inligting oor uitgediende plaagdoders aan lede van die Landbouchemiese Handelaarsvereniging van SA (Acdasa) verskaf of op www.acdasa.co.za registreer.
Boere kan ook mnr. Bill Smit, projekbestuurder, bel by sel 072 197 3447 en hul naam en faksnommer of e-posadres aan hom verskaf. Hy sal die toepaslike vorms aanstuur.
Die spertyd vir die indiening van vorms is 19 November.
28 September 2010