Die opruiming van die Apiesrivier, wat verlede jaar weens onder meer rioolbesoedeling tot ’n rampgebied verklaar is, vorder goed, sê die burgerregte-organisasie AfriForum.
Mnr. Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake, sê hulle is positief oor die verskeie ontwikkelinge wat by die Rooiwal-rioolaanleg onderweg is om die rivier te herstel.
“Dinge lyk in dié stadium baie goed. Verskeie ontwikkelinge is by die aanleg aan die gang, en die rehabilitasie van die rivier self kan ook reeds begin,” verduidelik Kleynhans.
Spertyd
Die Departement van Waterwese het in November verlede jaar, ná klagtes van AfriForum, ingegryp om die Tshwane-metroraad te dwing om aandag aan die saak te gee. Die raad het tot einde vandeesmaand tyd gehad om die rivier te herstel.
“Ons sal ná die sperdatum gaan ondersoek instel en monsters laat neem om vas te stel of die water skoon en geskik vir menslike gebruik is,” sê Kleynhans.
Die probleme by die aanleg is toegeskryf aan gebrekkige beplanning en bestuur, asook ’n traagheid om die aanleg in stand te hou. ’n Bedrag van R11 miljoen is onmiddellik deur die raad beskikbaar gestel vir die opgradering van die rioolaanleg.
Boere
Kleynhans sê die water sal moontlik eers ná 31 Maart geskik wees vir menslike gebruik, en dan ook moontlik eers vir gebruik as besproeiingswater deur boere. “Intussen is ons grootste uitdaging om drinkwater te kan verskaf aan die betrokke boere.”
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, het vroeër gesê boere kon vir ’n geruime tyd lank nie die water gebruik om te besproei nie. “Soms, as ’n mens onderdeur sproeiers ry, is daar bloedwurms op jou voorruit. Van die boere sê selfs die likkewane wil nie meer in dié rivier ingaan nie.”
Die boere is bekommerd oor die skade wat hulle reeds gely het. Dié skade is nie net beperk tot besmette gewasse wat nie gebruik kon word nie, want parasiete het ook in die water wat in die grond beland het, voorgekom.
29 Februarie 2012