
Wol verhandel tans op ’n rekordvlak van R161,96/kg skoonwol en met bykans geen opgehoopte voorraad en uitstekende vraag, behoort die neiging voort te duur.
“Met ’n wêreldtekort van sowat 50 miljoen kilogram kan Suid-Afrikaanse wolproduksie verdubbel, sonder ’n negatiewe invloed op pryse,” sê mnr. HB van der Walt, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Oos-Kaap.
Van der Walt het verlede week op die gesamentlike jaarvergadering van die NWKV en Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) op Queenstown gesê die goeie prys wat op die jongste ramveilings behaal is, weerspieël die vertroue wat wolboere in die bedryf het.
Met verwysing na die vereniging se ledetal in die provinsie, het van der Walt gesê 974 kommersiële boere is tans lede is en in die kommunale gebiede 1 224 skeerhuise wat nagenoeg 20 000 boere verteenwoordig.
“Toe die NWKV in 1997 in die kommunale dele betrokke geraak het, was daar net 222 000 kilogram wol ter waarde van R1,5 miljoen geproduseer. Verlede jaar het produksie hier tot 3,5 miljoen kilogram met ’n waarde van R250 miljoen gestyg.”
Van der Walt het gesê die NWKV het tans twee produksie-adviseurs wat kommersiële boere in die Oos-Kaap bystaan en 12 in die kommunale gebiede. Die provinsie lewer 38% van die nasionale skeersel van sowat 50 miljoen kilogram.
Van der Walt is eenparig tot voorsitter verkies en mnr. Tink Strydom van Barkly-Oos as ondervoorsitter. Mnr. Lawrence Maduna is as mede-ondervoorsitter vir die kommunale gebiede verkies.