
’n Plaasmoord in Baltimore het verlede week tot groot verdeeldheid gelei en is deur sommige boere en organisasies voor die deur van mnr. Ronald Lamola, ondervoorsitter van die ANC-jeugliga, gelê.
Die moord word gevolg deur ’n vreemdsame witkruis-optog in Mokopane. Volgens ’n berig in Beeld is dié gemeenskap van plan om Donderdag (28 Junie 2012) ’n optog met wit kruise in die dorp se hoofstraat te hou.
Die 77-jarige mnr. Johan van Rensburg word op dieselfde dag begrawe. Hy is Woensdagoggend (20 Junie 2012) in sy bed doodgeskiet, terwyl sy vrou, Gloudien, drie keer geskiet is. Van Rensburg het ’n dag tevore by die huis gekom nadat hy ’n operasie ondergaan het. Gloudien is steeds in ’n bedenklike toestand in ’n plaaslike hospitaal.
Verdagtes
Intussen is mnr. Marcel Maritz, ’n DA-raadslid in Mokopane, ontstoke omdat drie verdagtes glo Vrydag (22 Junie 2012) te midde van groot geheimhouding in verband met die moord in die dorp se landdroshof verskyn het.
Volgens lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, is vyf mans verlede Donderdag vir ondervraging in hegtenis geneem, maar hulle is vrygelaat omdat hulle nie met die moord verbind kon word nie.
Luidens die berig het lt. Komang Matsoma, speurhoof van die Tolwe-polisie, erken dat drie mans in die Mokopane-landdroshof verskyn het. Mnre. Jonathan Kgantsi Mafifi (29), Elvis Sathekge Kobe (23) en Marcus Johannes Sithole (43) word aangekla van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede. Hulle sal op 28 Junie in die Tom Burke-landdroshof verskyn.
Bron: Beeld