
Op dieselfde dag dat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede na die ekonomiese potensiaal van die kannabisbedryf verwys het, het die polisie mense in hegtenis geneem weens kannabisverwante oortredings, sê mnr. Zakhele Mthembu, ’n navorser in regte by die Vryemarkstigting.
“Hierdie teenstrydige benaderings binne die staat skep nie vertroue in die ekonomiese potensiaal van die kannabisbedryf nie. Die president noem die bedryf as ’n bron van werkskepping in Suid-Afrika, terwyl die polisie landsburgers terroriseer met inhegtenisnemings en lede van die kabinet betrokke is by hofsake teen maatskappye soos The Haze Club.” Die organisasie beywer hom vir die wettige gebruik van kannabis deur volwassenenes.
Mthembu sê die president het in sy staatsrede sover gegaan as om te verwys na landelike gebiede in Suid-Afrika waar kannabis al jare lank kommersieel verbou word, terwyl sy regering dit terselfdertyd deur allerlei regulatoriese struikelblokke probeer verhinder. Hy wys daarop dat daar in die 21ste eeu ’n ander houding jeens die plant ontstaan het as wat voorheen gegeld het. Talle lande het die gebruik van die plant in die een of ander vorm gewettig. Lesotho en Zimbabwe het dit onlangs vir mediese gebruik gewettig.
Hy beklemtoon daar is al oor ’n lang tyd navorsing oor die ekonomiese waarde van kannabis gedoen. Dit hou massiewe ekonomiese potensiaal vir Afrika in. Al is Suid-Afrika nie die grootste mark nie, is die geraamde waarde vir die plaaslike mark $1,2 miljard (R18 miljard), wat kan toeneem in ’n gunstige regulatoriese omgewing.
Die Grondwethof het in 2018 die deur oopgemaak vir die dekriminalisering van private gebruik van kannabis deur volwassenes in ooreenstemming met die staat se regulasies. Voorgestelde wetgewing daaroor is tans voor die nasionale vergadering. “Terwyl die wetlike proses aan die gang is om kannabis te wettig, hanteer die polisie die besit en gebruik daarvan asof daar geen verandering in die vooruitsig is nie. Hierdie benadering ontmoedig potensiële beleggings in die bedryf, veral deur klein ondernemings wat tans nog onwetttig bedryf word,” sê Mthembu.
Hy sê om uit ’n regsoogpunt tussen sigarette en kannabis te oordeel oor misdadigheid is arbitrêr. “Daar is bewyse dat kannabis minder skadelik as sigarette is, hoewel dit aan strenger wetgewing onderwerp word. Die dekriminalisering van alle kannabisverwante bedrywighede behoort die beleid van die Suid-Afrikaanse regering te wees.”
Hy wys daarop dat die onwettige kannabismark op plekke soos in Soweto ’n eie karakter en dinamika het. Die meesterplan vir kannabis en die wysigingswetsontwerp neem nie die eiesoortige aard van die ekonomie in hierdie woonbuurte in ag nie en dit gaan probleme skep. “Die regulatoriese brabbeltaal oor hoeveelhede vir gebruik en kommersiële verkope neem geensins die omstandighede in die voormalige swart gebiede in ag nie.”
Hy sê óf die president is nie bewus van sy administrasie se hantering van die situasie oor kannabis nie óf dit was blote retoriek toe hy daaroor gepraat het as ’n bedryf om werk te skep. “Nie een van hierdie opsies is goed vir deelnemers in die kannabismark nie, want daar is geen sekerheid nie – ’n baie belangrike aspek vir enige belegging. Die houding sal moet verander as die bedryf enige voordele – ekonomies of andersins – vir gewone mense moet inhou.”