Die Oranjerivier-gebied, ’n wingerdstreek wat ’n paar maande gelede self onder die toorn van die natuur deurgeloop het toe verwoestende vloede die streek kort voor oestyd getref het, is gevra om sy uitvoer van druiwe-konsentraat na Japan met sowat 66% te verhoog.
Japan is tans vuisvoos ná ’n vernietigende aardbewing en tsoenami die land op 11 Maart getref het en haas ondenkbare skade aangerig het. Die land moet sedertdien baie voedsel invoer, onder meer druiwe-konsentraat van die Oranjerivier Wynkelders op Upington.
Mnr. Altus Theron, bestuurder van Oranjerivier Konsentraat-Produsent (’n afdeling van Oranjerivier Wynkelders), sê die verhoging van voedselinvoer is ’n antwoord op Japanese voedselverskaffers se pogings om leë kosrakke te vul en inwoners van kos en drinkgoed te voorsien.
“Die Oranjerivier-gebied se uitvoer van konsentraat na Japan vir vandeesmaand is aanvanklik op 345 600 liter beplan vóór die tsoenami-ramp. Ons is egter nou gevra om hierdie volume met ongeveer 66% te verhoog tot 576 00 liter,” sê hy.
Oranjerivier Konsentraat-Produsent se produksie is ook onder druk ná die vloede, maar Theron sê hulle sal in Japan se vraag kan voorsien.
“Die verhoging in volume val binne die bepalings van ons gekontrakteerde volume met Japanse kliënte, dus is ons gerat om ons verpligtings aan ander kliënte na te kom.”
Oranjerivier Konsentraat Produsent is die grootste verskaffer van konsentraat in Suid-Afrika. Byna 40% van sy jaarlikse produksie van sowat 10 miljoen liter druiwekonsentraat word na Japan uitgevoer. Dit word gebruik as versoeter vir onder meer joghurt en vrugtesap.
Mitsubishi Corporation is sy grootste klant in Japan. Dié maatskappy verskaf konsentraat aan maatskappye wat suiwelprodukte, koeldranke en verskeie kossoorte vervaardig.
Theron sê die Japannese het net een doel voor oë: Om die nasie se mense en sake-ondernemings weer op die been te bring.
11 April 2011