Dis kommerwekkend dat ’n kwessie, soos grondhervorming, op die werking van ’n wanfunksionele departement en sy minister berus, sê mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou en van Graan SA.
Steytler het op Vrystaat Landbou se jongboerkonferensie in Bloemfontein gesê dit is ’n kwade dag wanneer redelike mense toelaat dat elemente die land se ordelikheid omverwerp en Suid-Afrika se ekonomiese oorlewing in die gedrang bring.
“Ons staan nie onverskillig teenoor die land se armes wat daagliks in ’n oorlewingstryd is nie. Die georganiseerde landbou streef egter na ordelikheid in die heersende prosesse, soos ten opsigte van grondhervorming,” het Steytler gesê.
Redelike mense
Hy sê dit is bemoedigend dat die meeste van die regerende ANC se uitvoerende komitee uit redelike mense bestaan. Die kommerwekkende deel is egter dat ’n kwessie, soos grondhervorming, op die werking van ’n wanfunksionele departement en sy minister berus.
Steytler is optimisties oor moontlike beleidsveranderinge wat sal meehelp dat die land se biobrandstofbedryf aan die gang kan kom.
Hy het gemeenskappe langs die Vrystaatse grens met Lesotho verseker dat Vrystaat Landbou sal toesien dat die beginsels van die Grondwet toegepas sal word om hul veiligheid te verseker.
In die jongste wending oor die regsgeding om die Regering te dwing om sy plig teenoor burgers na te kom, het Vrystaat Landbou die staat ’n verdere vergunning van 60 dae toegestaan om ’n volhoubare plan vir die beveiliging van landelike gemeenskappe in die Oos-Vrystaat in werking te stel.
29 April 2012