
Volgens mnr. Tozie Zokufa, direkteur van A Greener World Suid-Afrika, is die sertifisering se standaarde gegrond op die standaarde vir organiese produksie soos dit deur die Europese Unie (EU) voorgeskryf word. “Ons aanvaar reeds aansoeke van boere wat sertifisering wil bekom. Ons kan produsente én verwerkers sertifiseer, wat beteken die produkte kan ons embleem dra. Dit sal die verbruiker gerus stel dat die produkte wel organies is. Hierdie sertifisering sal produsente in die gunstige posisie plaas om ’n betekenisvolle markaandeel te bekom in ’n bedryf wat tans deur internasionale produsente oorheers word.”
Nog nie oral geakkrediteer
A Greener World se sertifisering is reeds geakkrediteer in Amerika, maar nog nie in Brittanje of die EU nie. Die organisasie het ’n tak in Brittanje en doen daar aansoek om akkreditasie, asook in die EU. Takke word ook in die Midde- en Verre Ooste opgerig.
Mnr. Andrew Gunther, ‘n voormalige Britse hoenderboer, het in 2006 na Oregon in Amerika verhuis waar hy sy familieboerdery voortgesit en terselfdertyd A Greener World gestig het. Die aanvanklike sertifisering was gemik daarop om ’n betekenisvolle sertifisering daar te stel wat vertroue by die verbruiker sou inboesem en nie bloot as ’n “groen-goolery” gesien word nie. Gunther het aanvanklik die sertifisering vir diere-welstand gestig. In Suid-Afrika is daar reeds hoender-, eier-, skaap-, vark- en beesboerderye wat hierdie sertifisering dra.
Die sertifisering kos minder as R20 000 vir die aanvanklike oudit en word vir eers deur verteenwoordigers van A Greener World in Brittanje behartig. “Ons is besig om plaaslike inspekteurs en ouditeurs op te lei, wat belangrike vaardighede en nuwe werkgeleenthede op eie bodem skep. Ons is trots daarop dat ons hiérdie proses kan lei,” sê Zokufa.
A Greener World bied ook sertifisering in terme van herlewingslandbou, GMO-vry, gras-gevoerde vleis, eiers asook ook salm-welstand aan. Daar is reeds bykans 20 restaurante, slaghuise en kleinhandelaars in Suid-Afrika wat aandring op dié diere-welstand en gras-gevoerde sertifisering vir hul produkte. “Ons is sedert 2017 in Suid-Afrika werksaam en gebruik ons blog, nuusbrief en sosiale media om met die publiek te skakel en bewustheid te skep. Ons werk ook saam met produsente om bewustheid rondom hulle handelsmerke te skep.”
Navrae: Tozie Zokufa: e-pos: info@agreenerworld.org.za, sel: 074 974 9777