
Groot verdeeldheid heers steeds in landbougeledere oor die meesterplan vir landbou en landbouverwerking. Organisasies wat glo dit is ’n landbouplan sonder boere, werk nou aan ’n alternatiewe plan.
Die netwerkorganisasie Saai en TLU SA sê in ’n verklaring ten spyte van groot opgewondenheid onder staatsamptenare, landboubesighede, vakbonde en die ANC oor die landboumeesterplan, kry dit die wind van voor boere en organisasies wat hulle op grondvlak verteenwoordig. Hulle sê geen poging om die debat te demp of te ignoreer kry die stemme wat teen die meesterplan beswaar maak, stil nie.
Luidens die verklaring is organisasies met derduisende lede soos Saai, TLU SA, die wildboervereniging (WRSA) en die werkgewersorganisasie (NEASA), asook verskeie akademici, wetenskaplikes, opposisiepartye, ekonome, plaaslike en distrikslandbou-unies en individuele boere wat die plan verwerp het, besig om ’n meer inklusiewe, markvriendelike en staatsbestande alternatiewe meesterplan te ontwikkel.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, sê die meesterplan wek die indruk dat die ANC dit as ’n transformasiestrategie opgestel het en later welwillende organisasies in die landbou gaan soek het om daaraan legitimiteit te gee.
“Die hoofbesware teen die meesterplan is dat dit mank loop aan inklusiwiteit, die ANC se ernstig gediskrediteerde transformasiemodel as fondasie gebruik en amper nêrens na boere verwys nie. Dit is ’n landbouplan sonder boere.”
Hy sê geeneen van die ondertekenaars kon tot dusver verduidelik waarom vakbonde en nie-regeringsorganisasies se insette in die meesterplan gevra is, terwyl geen bydrae van die grootste boerestrukture, werkgewersorganisasies, bedryfsorganisasies en ekonome bekom is nie.
De Jager sê anders as die staat se meesterplan sal die alternatief oop wees vir deelname, ook van individuele boere en ander vennote in die waardeketting. “Dit sal uiteindelik aan die ondertekenaars van die staat se meesterplan voorgelê word om te bepaal presies wat hul beswaar teen ’n meer inklusiewe en markvriendelike alternatief is.”
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê ten spyte van die goeie ekonomiese beginsels wat in die meesterplan vervat is, is die plan besmet met uitgediende ideologiese beginsels wat wêreldwyd nog net armoede en hartseer veroorsaak het. “TLU SA is aanvanklik by besprekings van die meesterplan betrek, maar is weggelaat nadat die organisasie duidelikheid gevra het oor die definisie van ‘transformasie’.”
Die organisasies vra boere om hul kommentaar hier by te voeg.