
Mnr. Orton King, uitvoerende direkteur van die Agri Mega-groep, het in 'n elektroniese nuusbrief van die Agri Mega-groep belanghebbendes verseker dat hy nie skuldig is aan bedrog nie.
King is Dinsdag deur die Bredasdorp-polisie gearresteer op 'n klag van bedrog en is Woensdag op borg vrygelaat onderwyl die polisie die saak ondersoek.
“Ten eerste wil ek u die versekering gee dat ek oortuig is van my onskuld én begerig is dat die reg so gou moontlik sy loop neem.
“Ten tweede wil ek, as uitvoerende direkteur van die Mega-groep, u daarvan verseker dat hierdie aangeleentheid in ons eie geledere hoegenaamd geen invloed op enige van ons projekte sal hê nie.”
Volgens die ondersoekbeampte in die saak is 'n bedrag van sowat R2,3 miljoen ter sprake. Die bedrogklag is gelê deur ‘n lid van Agri Mega se direksie.
Mnr. Jan Greyling het Dinsdag bevestig dat King van bedrog aangekla is maar was nie bereid om kommentaar te lewer oor die saak nie.