
Nadat die droogte hulle verlede jaar uitgeknikker het, hervat die Ottosdal-geenbewerkingklub vanjaar hul jaarlikse konferensie. Dit sal op 6 en 7 Maart in samewerking met Graan SA, die Landbounavorsingsraad, en verskeie maatskappye, onder wie ook Landbouweekblad, op die dorp se skouterrein gehou word.
Op die spreker-lys is onder meer drie bewaringsboere, mnre. Jurie Bezuidenhout van Migdol, Derek Mathews van Sannieshof, en Gerhard Cronjé van Bultfontein. Hoofsprekers die eerste dag is prof. Ferdie Meyer van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), wat oor die ekonomiese stand van sake en vooruitsigte vir die landbou sal praat, en dr. Wayne Truter van die Universiteit van Pretoria se departement vir plant- en grondkunde, wat sal praat oor hoe jy ekostelsel-dienste op hul beste vir jou boerdery laat werk.
Me. Venessa Moodley van die kunsmismaatskappy Omnia sal die tweede dag oor grondbiologie praat, dr. Annemie Erasmus van die Landbounavorsingsraad se Somergraan-instituut oor insekte in bewaringslandbou, en mnr. Tommie Wiersma van Wiersma Agrochem oor onkruidbeheer.
Dr. André Nel, bewaringslandbounavorser en agronoom, sal die jongste resultate van hul uitgebreide bewaringslandbou-proewe in die distrik bespreek. Dit kos R500 per persoon, wat etes op Maandag, 6 Maart, insluit.
Weens die groot belangstelling moet die klub ongelukkig ’n beperking op die bywonertal stel. RSVP vóór 24 Februarie by me. Chandré Rudolph, 082 075 3214 of rudolphchandre@gmail.com.
Navrae kan ook aan mnre. Hannes Otto (082 774 3993), Dirk Laas (082 388 2206) of Louwrens Rudolph (083 388 5291) gerig word. Beperkte verblyf is vanaf R200 per persoon beskikbaar. Bel Herman Kriel (083 776 7610) of Wilna Voges (082 761 2459) hieroor.