
Boere se leningskuld by die ou Landboukredietraad het, hoewel stadig, van meer as R1 miljard na onder R100 miljoen gedaal.
Die Departement van Landbou, Bosboue en Visserye bestuur steeds die leningskuld wat die instelling tot 1997 aan boere vir landboudoeleindes toegestaan het. Die deregulasie van Suid-Afrika se finansiële markte in die vroeë 1980’s het gelei tot die uitfasering van finansieringskonsessies wat die landbou, veral graanboere, voorheen geniet het.
Dié optrede het uiteindelik gelei tot die sluiting van die Landboukredietraad in 1998. Met sy sluiting het 9 614 boere uitstaande skuld van meer as R1,1 miljard vir altesaam 16 432 rekeninge gehad.
In die jongste jaarverslag van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, dui mnr. Mortimer Mannya, ’n voormalige waarnemende direkteur-generaal van die departement, aan dat die totale uitstaande skuld teen 31 Maart vanjaar op net meer as R68 miljoen gestaan het.
Die hoeveelheid boere wat geld skuld het, het tot 190 gekrimp en die rekeninge het tot 237 verminder. Mannya het aangedui dat net meer as R6 miljoen se leningskuld in die 2015/’16-geldjaar ingesamel is en dat nagenoeg R4,5 miljoen se skuld afgeskryf is.