
Die vorige LUR vir landbou in die Wes-Kaap, mnr. Gerrit van Rensburg, is met ingang 1 Oktober aangestel as voorsitter van Agri Mega NPC, die nie-winsgewende landbou- en landelike ontwikkelingsmaatskappy van die Agri Mega Groep (AMG).
Die aankondiging is deur mnr. Orton King, groep uitvoerende direkteur van AMG, gedoen.
Van Rensburg volg me. Nonie Mokose op. Sy het weens persoonlike pligte en ander belange besluit om uit die voorsitterspos te bedank. Volgens King sal Mokose steeds as ‘n direkteur van AMG Enterprises, ‘n landbou-ontwikkelingsbesigheid binne AMG, dien.
Onder Van Rensburg se leiding is die Wes-Kaapse departement van landbou oor die afgelope drie jaar as die beste staatsdepartment in die land aangewys is. Dit was vir sy bestuursprestasies en skoon oudits.
Volgens Van Rensburg is hierdie prestasies deur werknemers en bestuur se strewe na volgehoue verbetering en toerekeningsvatbaarheid moontlik gemaak.
Van Rensburg sien die rol wat hy in die direksie van AMG NPC kan speel as ’n bydraer tot die ontwikkeling van die landbou en die ontginning van nuwe geleenthede vir die landbou en grondeienaars.
“Met kennis van beide die landbou en staatsadministrasie glo ek dat ek verseker waarde sal kan toevoeg. Omdat ek nog baie energie het, my hart in die landbou is en ek wil sien dat dit met landbou goed gaan, neem ek graag die taak by die Agri Mega Groep op,” sê Van Rensburg.
Hy voeg by dat instansies soos Agri Mega Groep die leiding kan neem om kanale te help oopmaak en oop hou om transformasie en landelike ontwikkeling tot almal in die landbou se voordeel te versnel. Hy sê talle boere soek na geleenthede en leiers om noodsaaklike oorgangsprosesse doelgerig te bestuur.