
Mnr. Jan Serfontein het in sy hoedanigheid as die direkteur van die maatskappy OTY Square Trading (ten tyde van die oortreding) skuld bekend op ’n aanklag van dieremishandeling.
’n Storm het in 2009 rondom dié oud-LUR vir landbou in Noordwes se kop losgebars toe beeldmateriaal van kuikens wat in ’n sementdam gelaat word om te vrek, aan die televisieprogram Carte Blanché verskaf is.
Luidens ’n verklaring sê die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) die nuutgebore kuikens is glo in die dam op die Boskop Layer-hoenderplaas buite Potchefstroom gelaat om van honger, dors of weens weerstoestande te vrek. Serfontein het op 21 Augustus vanjaar in die plaaslike landdroshof skuld beken op dié aanklag asook twee aanklagte van omgewingsverwante oortredings.
Boetes
Vir die klag van dieremishandeling is Serfontein ’n boete van R1 000 opgelê, wat opgeskort is vir drie jaar. Hy is ook beveel om binne 10 dae vanaf die vonnisoplegging ’n boete van R5 000 aan die DBV te betaal.
Ten opsigte van die oortredings van die Nasionale Omgewingsbestuurswet is Serfontein boetes van R80 000 en R10 000 elk opgelê, waarvan R40 000 van die eerste boete vir drie jaar opgeskort is. Die boete van R10 000 is vir dieselfde tydperk opgeskort.
“Dit beteken effektief ’n boete van R40 000 en ’n bedrag van R5 000 betaalbaar aan die NDBV,” lui die verklaring.
Ontevrede
Die NDBV maak sy ontevredenheid met die vonnis duidelik in die verklaring. “Die NDBV spreek sy ernstige kommer en absolute afgryse uit dat dit deur dié vonnisoplegging blyk dat die misbruik van lewende wesens as ’n lae voorrangsaak beskou word.”
Dié stelling is gegrond op die lae boete vir die mishandelingsklag in teenstelling met die omgewingsmisdaad.
“Namens die DBV regoor Suid-Afrika rig ons ’n versoek aan die Departement van Justisie om op te let na die sedes van die samelewing en dat wreedheid, verwaarloosing of mishandeling van diere as ’n misdaad teen die mensdom beskou moet word,” aldus die NDBV.