Die twee vriende het 28 jaar gelede byna tegelykertyd na die Suid-Amerikaanse land geëmigreer en naby aan mekaar gewoon. Coetzee wat voorheen soos Brits in die Vrystaat geboer het, en sy vrou, Martie, het onlangs op hul plaas gaan stap toe hy deur twee gewapende misdadigers oorrompel en hulle ’n losprys geëis het. Martie is deur ’n mielieland terug huis toe terwyl Danie padlangs geloop het. Daar is hy aangeval. Hulle het Martie op Danie se selfoon gebel. Terwyl hulle vuurwapens teen sy kop gehou het, het Danie gesê hulle eis ’n losprys van sowat R5 miljoen.
Martie kon hoor hoe hy vir die ontvoerders sê dat hulle hom “vir daardie tipe geld” maar kan skiet. Die polisie is ontbied en hulle het Danie se lyk later in ’n woud gevind. Hoewel die omstandighede nog duister is, het hy moontlik weens die skok met die ontvoering aan ’n hartaanval gesterf.
Danie het juis Paraguay toe verhuis om van die geweld in Suid-Afrika weg te kom, volgens sy broer, Mauritz. Dit was nadat vier van sy vriende naby Smithfield vermoor is. Hy laat sy vrou, vier kinders en vyf kleinkinders agter.