
Mnr. Robert Schilling, TLU SA se streekbestuurder: Oos en Natal, gaan sy 40 jaar ervaring in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nou inspan om TLU SA-lede by te staan met hoëprofielmisdaadsake waarmee nie vordering gemaak word nie.
Schilling het sy jare ondervinding in sigbare polisiëring opgedoen. Die grootste deel was in die polisie se nooddienste. “Ek het op voetsool- en offisiersvlak gedien en het dus meer as genoeg kennis en ervaring vir die nuwe rol. Nog ’n pluspunt is die feit dat ek so onlangs as ’n jaar of wat gelede nog in die SAPD gedien het. Dit sal dus vir my moontlik wees om die skakeling met die SAPD deur die regte kanale en op die regte wyse te doen, wat van deurslaggewende belang is.”
Hy verwag dat dit ’n moeilike rol sal wees, maar een wat hom na aan die hart lê. “Daar gaan beslis ’n probleem of drie wees, maar ek meen een van die grootste probleme nadat ’n misdaad gepleeg is, is die uiteenlopende emosies wat ervaar word. Die slagoffer(s) is kwaad oor die moord of die honderd dragtige ooie wat geslag is, om nie eens te praat van die indringing van sy privaatheid nie. Daar is ook hartseer.
“Dit is egter nie al nie, die verhouding tussen ondersoekers en klaers help nie veel nie, aangesien die publiek geen vertroue meer het in die vermoë van die SAPD nie.”
Hy het TLU SA se lede verseker dat hy sy bes sal doen om almal wat hulp nodig het, by te staan en te dien. “Ek is versigtig optimisties en ook baie opgewonde. Ek het my lewe lank beskerm en gedien, en dit is presies wat ek sal bly doen.”Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die nuwe rol sal aanvullend tot Schilling se take as streekbestuurder wees. “Robert het nie net die nodige kennis en ervaring nie, hy het ’n hart om te dien en dié wat hom nodig het, te help. Om iemand soos hy in ons midde te hê, is ’n voorreg en die besluit om hom in die nuwe rol aan te wend, is tot voordeel van elke lid van TLU SA.”