
Met die klem op Afrika as die wêreld se belangrikste voedselbron vir die toekoms, is die 22ste Agri Megaweek by Megapark op Bredasdorp ’n hoogtepunt vir die Overberg, maar ook vir Suid-Afrika as toonaangewende landbouland.
Die Megaweek duur van 17 tot 20 September en is die belangrikste agri-saamkoms naas die Nampo-oesdag.
Duisende besoekers en honderde uitstallers van vee, toerusting, dienste en landboutegnologie is vanjaar deel van die Agri Megaweek. Veilige parkeerplek vir ten minste 3 500 voertuie en ’n aparte ingang vir belangrike gaste om verkeer makliker te laat vloei. Meer as 160 standplase vir uitstallers om van te kies.
Talle genootskappe sal beesrasse, soos die inheemse Nguni en die winsgewende Ayrshire, by die geleentheid vertoon. Kyk uit vir verskillende rasspesifieke beoordelings en demonstrasies sowel as die interraskompetisies, soos die “Koningin van die Ekspo” vir melkkoeie op 19 September.
Verskeie vertonings, skoue en veilings van skape en bokke word gedurende die week in die BKB-veesentrum aangebied, waaronder jeugskou-afdelings vir die jongklomp.
Inheemse kleinveerasse, soos Damara-skape, is in die BKB-veesentrum te sien. Skaapskeerdemonstrasies is ook altyd ’n groot trekpleister, sowel as die skaaptelkompetisie.
Veteraantrekkers ry daagliks deur die strate van Megapark. Die optog word deur die Bredasdorpse Veteraantrekkergroep saam met die Wes-Kaapse Veteraantrekker-en-enjinklub aangebied.
Verskeie debatsgeleenthede word ook aangebied. Aktuele landboudebatvoering, besprekings en netwerkgeleenthede sal al die belanghebbendes die kans gun om regstreeks met mekaar oor belangrike kwessies te gesels. Die drie grootste formele besprekingsgeleenthede op die Agri Megaweek sluit in debatte oor grond-, water- en arbeidskwessie, ’n bespreking oor koring, gars en kanola, en oplossing en vraagstukke rondom die grondhervormingsbeleid.
Webwerf: http://www.agrimegaweek.co.za/