
Sowat 5 372 ha het deurgeloop in die veldbrand wat op Saterdag 7 Januarie tussen Kleinmond en Hermanus ontstaan het en eers ná 4 dae onder beheer gebring is, sê dr. Annelie Rabie, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit.
“Boere het beperkte skade aangemeld en dit is te danke aan spoedige reaksie deur ons brandbestryders en vrywillige helpers. Op die oomblik is sowat 10 ha se skade aan ’n fynbosplaas aangemeld.”
Wynplase in die omgewing is dankbaar dat min wingerde regstreekse brandskade opgedoen het. “Wanneer wingerde hierdie tyd van die jaar brand – net voor oestyd – is die direkte verlies druiwe wat geskroei of rookskade het,” sê mnr. Werner Muller, ’n wynmaker op die Iona-landgoed tussen Kleinmond en Hermanus.
Hoewel die presiese skade vir wynboere nog nie duidelik is nie, bestaan die kans op “moeilike besluite vir die boere” steeds, sê Muller. As die druiwe wel rookskade het, moet die boere besluit of hulle steeds die druiwe moet oes en voortgaan om dit te verwerk. Selfs dan loop die boere ’n groot risiko dat die eindproduk se gehalte nie na wens is nie. Rookskade het dikwels ’n ongunstige impak op die geur en smaak van druiwe.
“Die grootste verlies weens brand is die ekologiese verlies in die berghange bo Kleinmond,” sê die brandbestrydersgroep Greater Overberg FPA. Die omvang van die skade aan die Lamloch-proteaplaas, CapeNature-wildreservaat, Perdeberg-natuurreservaat en denneplantasies moet nog bepaal word, hoewel voorlopige ondersoeke op beperkte skade dui.