
Boere in die Oos-Vrystaat het ’n plan beraam om visse vir ’n hengelkompetisie op Lindley te verskaf. Luidens ’n verklaring het die abnormaal baie reën wat die afgelope seisoen in die distrik geval het, nie net probleme vir boere en sake-ondernemings veroorsaak nie.
Die eerste BUNDU-Ekspo wat in die Vrystaat aangebied gaan word, het ook deurgeloop. Die ekspo word die komende naweek (18 tot 20 Maart) aangebied, maar die beoogde hengelkompetisie wat deur Stywe Lyne aangebied word, kan nie meer by die Lindleydam plaasvind nie.
Damoewer beskadig
Die reën het veroorsaak dat die dam se oewer bykans heeltemal verspoel het en met watergras bedek is. Dit is ongunstige toestande vir ’n kompetisie.
Die ekspo se organiseerders het egter gereël dat die dorpswembad, wat al jare lank leeg staan, vol water gepomp word. Boere in die distrik het ook visse van hul damme en strome geskenk wat in die swembad aangehou kan word.
Die kompetisie gaan dus op ’n minder tradisionele manier voort. Die hengeltoerusting word verskaf en wenners word daagliks aangekondig.
16 Maart 2011