
Vanaf November 2021 tot Februarie vanjaar het die logistieke maatskappy Tip-Top Milk R176 000 aan herstelwerk van sy vloot bestee weens swak padtoestande in KwaZulu-Natal, sê mnr. David de Jager, uitvoerende hoof van Tip-Top Milk.
Dit het daartoe gelei dat die maatskappy moes besluit waar hy melk kan afhaal en aflewer, wat ’n impak op die hele melkwaardeketting, asook boere en verbruikers het.
De Jager sê die maatskappy het al ernstige skade op paaie in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat ervaar. “Ons vragmotorbestuurders moet bedag wees op slaggate, ongelyke padoppervlakke, verspoelde en soms selfs onbegaanbare paaie. Hul veiligheid is ons grootste prioriteit en ons doen alles om dit te verseker, maar die herstel en onderhoud van padinfrastruktuur is buite ons beheer.”
Die herstelkoste wat alle logistieke maatskappy weens swak padtoestande moet aangaan, het volgens De Jager uiteindelik ook ’n impak op die prys wat verbruikers betaal. “Die regering, munisipaliteite, belanghebbendes en leiers moet dringend optree. As padinfrastruktuur in landelike gebiede nie dringend verbeter word nie, sal dit ’n katastrofiese impak op nie net die melkbedryf en voedselsekerheid hê nie, maar ook die ekonomie hê.”