
“Probleme ten opsigte van onvoldoende elektrisiteit, finansieringsmodelle en vertragings daarmee, en gebrekkige dienslewering verg innoverende oplossings en deursettingsvermoë,” het mnr. Heinrich Jantjies, Witzenberg PALS-voorsitter, op die organisasie se jaarvergadering gesê.
“Een van ons grootste probleme bly finansiering om die nodige kapasiteit te bou by die PALS-sentrums en om nuwe projekte aan te pak. Ons hoop ons aansoek by die Jobs Fund sal help en dat verdere vergaderings met nasionale organisasies en handelsbanke tot verdere finansiering sal lei, sodat ons dit op nasionale vlak kan uitbrei tot voordeel van al ons streke.”
Hulle wil oor die volgende jaar onder meer ’n aantal nuwe waardeketting- en boerderyprojekte met appels, pere, kersies en groente in die Witzenberg-vallei staanmaak.
“Die covid-19-krisis het ons ’n hernude besef gegee van die landbou se belangrikheid en die noodsaaklikheid van inklusiewe ekonomiese groei. Dit maak PALS se rol in die toekoms nog belangriker om praktiese, inklusiewe landbou-ontwikkeling en grondhervormingspraktyke verder uit te bou,” het Jantjies gesê.
Witzenberg PALS het gehelp om 43 boerdery-besighede met betekenisvolle swart aandeelhouding op die been te bring. Altesaam 180 plaaswerkers is nou mede-eienaars en aandeelhouerbegunstigdes in die landboubesighede. Sowat 2 085 plaaswerkers trek voordeel uit werknemerstrusts en 3 200 werkgeleenthede is in primêre en sekondêre landboubedrywe geskep.
“Ons kry egter nog nie die nodige erkenning en ondersteuning van regeringsinstellings wat PALS se sukses regverdig nie.”
Witzenberg PALS het in 2014 ontstaan en het hom sedertdien bewys as ’n formule vir suksesvolle grondhervorming wat volhoubare landboubesighede op grondige sake- en wetlike fondasies vestig en maatskaplike harmonie en werkskepping ondersteun. Dit het intussen ook na ander streke uitgebrei, met Malutu PALS en Mpumalanga PALS wat daaruit gevloei het. ’n Behoefte vir SA PALS het ook ontstaan, met verteenwoordigers uit elke streek, asook ’n onafhanklike direkteur, me. Joyene Isaacs.
Volgens Jantjies skakel PALS gereeld met die nasionale, provinsiale en plaaslike regering.
“Dit bly uiters belangrik om die verkryging van instaatstellers soos waterlisensies, finansiering en erkenning te bespoedig en vergemaklik.”