Die Nasionale Weerdiens het waarskuwings oor erge storms in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap uitgereik, sê die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Luidens ’n verklaring word dié storms vir Donderdag 12 Januarie 2012, en moontlik later, in die noordoostelike dele van die Oos-Kaap, in die verre oostelike dele van die Vrystaat asook in die westelike dele van KwaZulu-Natal voorspel.
Die departement waarsku veral boere om vir die storms op die uitkyk te wees en die nodige voorsorgmaatreëls te tref om hul eiendom en vee te probeer beskerm.
30 minute
In die algemeen word verwag dat die storms sowat ’n halfuur tot ’n uur kan woed. Van die storms kan met hael gepaardgaan. Die departement raai boere aan om seker te maak dat hulle weet waar hulle hul vee tydens so ’n storm beskutting kan gee.
Verder moet hulle seker maak dat alle buitenshuise aktiwiteite op die plaas, soos om te ploeg, te besproei, te plant en vee te dip, betyds gestaak word. Hulle raai boere ook aan om die plaaslike media te gebruik om ingelig oor weerstoestande te bly.
Klik hier om ons nuutste weerverslag te lees.
12 Januarie 2012