Pasop vir ‘n sindikaat wat wat niksvermoedende lesers van etlike landboutydskrifte op groot skaal uit hul geld bedrieg het.
Die Handelsmisdaad-Ondersoekeenheid van die SA Polisiediens (SAPD) is besig om ‘n sindikaat oop te vlek wat hiervoor verantwoordelik is. Dié verwikkeling volg nadat Landbouweekblad die afgelope tyd ten nouste met die SAPD saamgewerk het om die euwel hok te slaan.
Die werkwyse was deurgaans dieselfde: ‘n Produk, bv. ‘n staalskuur, trekker, planter of enige plaasimplemente/benodighede, word in die tydskrifte se geklassifiseerde advertensie-afdeling geadverteer, foto’s daarvan word per selfoon aan ‘n belangstellende koper gestuur, met die versoek dat ‘n deposito in die verkoper se rekening inbetaal word, en die onderneming dat versending onmiddellik daarna gereël sal word.
Sodra die geld inbetaal is, verdwyn die verkoper egter spoorloos. Uiteraard bestaan die produk nooit nie, en verander die sindikaat sy kontakbesonderhede deurlopend.
Nadat die misdryf onder Landbouweekblad se aandag gekom het, kon die Handelsmisdaad-Ondersoekeenheid daarin slaag om op die sindikaat toe te slaan. In die ondersoek wat daarop gevolg het, het dit aan die lig gekom dat nie net Landbouweekblad geteiken is nie, maar ook ander publikasies in die landbousektor.
Mense wat vermoed dat hulle ‘n slagoffer van die sindikaat was, kan kapt. Barries Barnard van die Handelsmisdaad-Ondersoekeenheid in Johannesburg skakel by 011 870 5300 of epos barnard@polka.co.za.
Kapt. Barnard het die volgende wenke vir lesers:
* Die goue reël is; as jy nie aan die produk/geld kan vat nie, moet nie die betaling maak of die produk lewer nie.
* Versoek 'n landlyn-nommer waar die verkoper/koper geskakel kan word en maak kontak met hom daar ook; wees bedag indien die verkoper slegs selfoon- en faks na epos-nommers as kontakbesonderhede verskaf.
* Tref reëlings om die produk te besigtig, kry die volledige fisiese adres/koördinate en bevestig of dit wel bestaan.
* Versoek 'n kontrak/koopooreenkoms, gaan besonderhede daarop na en let op vanwaar dit gestuur was, bv. epos/faksnommer.
* Verdagte produkte word gewoonlik as 'n "winskoop" of "te goed om waar te wees" geadverteer.
* Bevestig by die bank of die gegewe bankrekening-nommer wel aan die verkoper behoort.
* Hoewel Landbouweekblad uit sy pad gaan om adverteerders se besonderhede te kontroleer, kan hy uiteraard nie elkeen se optrede en produkte waarborg nie. Lesers word dus aangeraai om hulself te vergewis van adverteerders se integriteit voordat hulle goedsmoeds oorbetalings doen.
4 September 2011