Lede van landelike gemeenskappe naby Brakpan word teen ‘n valse veearts in die omgewing gewaarsku.
Mnr. Makoko Lekola, woordvoerder vir die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling, sê mnr. Jimmy Hawley, wat nie die nodige kwalifikasies het nie, praktiseer glo ondanks ‘n hofbevel teen hom.
“Die DBV het Hawley hof toe gevat nadat hulle gevind het dat hy praktiseer sonder ‘n kwalifikasie. Die Brakpan-landdroshof het hom beveel om dadelik op te hou praktiseer, maar hy gaan steeds voort. Die departement ondersoek tans moontlike optrede om Hawley te stop,” sê Lekola.
Kommer oor siektes
Lekola sê hulle waarsku die gemeenskap om nie hul diere vir behandeling na Hawley te neem nie, omdat hy nie die korrekte behandeling kan gee nie. Ná ‘n uitbreking van hondsdolheid wat vroeër in die provinsie voorgekom het, en omdat alle provinsiale veeartsenydienste op gereedheidgrondslag is vir die moontlike uitbreking van siektes soos Slenkdalkoors en bek-en-klouseer is, is die departement bekommerd dat Hawley gemeenskappe se gesondheid in gevaar kan stel.
Diere-eienaars word aangemoedig om van die dienste van die staatsveearts in Ekurhuleni gebruik te maak.
Intussen sê mnr. Andre Botha, voorsitter van Agri Gauteng, boere het oor die algemeen ‘n baie goeie verhouding met veeartse en hy weet dat baie bekwame veeartse in die omgewing praktiseer. Hy sê boere moet in elk geval maar op die uitkyk wees dat hulle nie deur valse veeartse onkant betrap word nie.
17 Februarie 2011