
Welkome reën het verligting in die droogtegeteisterde Noordwes gebring, maar ook ’n toename in bosluise, wurms, vlieë en muskiete wat dieresiektes dra.
Noordwes se departement van landbou en landelike ontwikkeling waarsku boere om op die uitkyk te wees vir dié uitbrekings.
Die meeste bosluise wat na verwagting gaan uitbroei, dra reeds siektes, wat tot ’n toename in galsiekte, rooiwater, hartwater en spirochetosis kan lei. Omdat meer muggies en vlieë gaan voorkom, kan knoppiesvelsiekte, slenkdalkoors en antraks-infeksies ook kop uitsteek.
Ontwurm skape en bokke na reën
Dr. Langa Madyibi, direkteur van veeartsenykundige dienste in Noordwes, moedig boere aan om hul skape en bokke te ontwurm indien hulle kliniese tekens van wurmbesmetting toon. Boere moet ook daarop fokus om die korrekte dosisse toe te dien, omdat verkeerde dosisse seleksie vir weerstandbiedende parasiete kan veroorsaak.
“Knoppiesvelsiekte kan slegs voorkom word deur inenting, wat in die winter, vóór die reënseisoen, moet plaasvind,” sê Madyibi. “Boere word aangeraai om vliegafwerende plaatjies aan beeste se ore vas te maak.
“Boere moet hul oë oophou vir enige tekens van uitbrekings van dieresiektes gedurende die reënseisoen en sulke gevalle betyds aanmeld,” sê me. Desbo Mohono, Noordwes se LUR vir landbou en landelike ontwikkeling.