Vrae word gevra oor waar mnr. Ebrahim Patel, die Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, sy feite kry dat die helfte van die plaaswerkers in die land minder as R100 per maand betaal word, aldus Agri SA.
Luidens ’n berig op Nuus24.com het Patel Dinsdag (6 September 2011) lede van die Food and Allied Workers Union (FAWU) in Braamfontein toegespreek.
Hy het gesê dat die land tans 40 000 kommersiële boere het wat 95% van die land se voedsel vervaardig. Verder het hy uitgewys dat slegs sowat 600 000 mense in dié sektor as plaaswerkers erken word, en dat dit geïdentifiseer is as ’n sektor wat die potensiaal besit om werksgeleenthede te skep.
Patel het glo ook gesê dat wetgewing plaaswerkers se salarisse tot “slegs” meer as R1 000 verhoog het, maar “sowat die helfte van dié werkmag word maandeliks minder as R100 betaal,” lui die berig.
‘Onrealisties’
Mnr. Anton Rabe, die voorsitter van Agri SA se arbeid- en sosiaal-maatskaplike beleidskomitee, sê “blote logika behoort vir enige regdenkende mens aan te dui dat ‘at least half of the workforce’ wat R100p/maand verdien bloot nie realisties of moontlik is nie”. Hy sê verder enige mens wat sy werkers wel soveel betaal, moet uit die bedryf verban word.
Volgens Rabe is die minister se feite ten opsigte van salarisse en werkergetalle verkeerd. Hy sê die wetlike minimum loon op intreevlak is op R1 375,94 vasgestel. Opgeleide of geskoolde werkers verdien uiteraard meer. Hy sê daar is tans sowat 800 000 plaaswerkers in die land.
Rabe sê hulle het al telkemale aangedui dat enige mens in die bedryf wat sy werkers minder as minimum loon betaal, vervolg moet word. Ernstige optrede sal volg “teen diegene binne die landbou wat die aantygings aanblaas.”
Bron: Nuus24.com
7 September 2011