
Nege ruiters, elk met ’n span perde, spring op 1 Oktober weg op ’n 1 000 km-uithourit, wat oor ’n week strek, in die Sandymount-natuurreservaat by Fauresmith in die Vrystaat.
“Die baan is in twee roetes verdeel – A en B,” verduidelik me. Rykie Fourie, besturende vennoot van die reservaat. “Roete A is meer tegnies, met bergpaaie. Roete B is platter, wat ruiters se lywe ’n blaaskans gee. Hulle doen een dagroete A, die volgende dagroete B, ensovoorts. Albei roetes loop deur die reservaat. “Sandymount is 15 000 ha groot. Daar is 30 wildsoorte in die kampe waardeur die roete loop, onder meer buffels.”
Ruiters pak die volle 1 000 km self aan, maar wissel deur die loop van die week perde sodat hulle nie ooreis word nie.*
Twee ruiters is van oorsee. Mnr. Devan Horn van Houston, Texas, het al by die befaamde Mongoolse Derby presteer, en leen perde by die Sandymount-span. Die Australiër me. Natasha Willemse leen perde by dr. Eline Troskie van Bloemfontein.
Benewens die 1 000 km-uitdaging, is daar ook korter roetes vir ander deelnemers gedurende dié week. “Twaalf van Sandymount se perde neem deel,” sê Fourie. “Van die perde is nog nuwellinge, wat net 40 km of 80 km gaan ry.”
Volgens Fourie lyk die weervoorspelling goed. “Sommige dae gaan warm wees – die ondersteuningsspanne sal moet seker maak ruiters en perde dehidreer nie. Agt ruiters het verlede jaar die 1000 km voltooi.”
* Voor die rit, ná elke been, en ná die eindstreep moet ruiters by ’n veearts aanmeld wat hul perd ondersoek en beslis of hulle mag voortgaan.