Die perdebedryf kan ’n geraamde verlies van sowat R600 miljoen ly as ’n verbod van twee jaar op uitvoer weens perdesiekte geplaas word. Meer as 50 perde wat gevrek het, het positief vir Afrika-perdesiekte getoets.
Die totale sterftes in die Wes-Kaap is meer as 70. Sedert November verlede jaar het meer as 600 perde landwyd gevrek. Daar word verwag dat die Europese Unie ’n verbod van twee jaar lank op die uitvoer van die diere gaan plaas.
Me. Liesl King, voorsitter van die Kaapse Renperd- telersvereniging, sê die gevolge van die uitbreking is verreikend. Nie net is die uitvoer van perde onmiddellik opgeskort nie, maar die eerste internasionale wedren wat volgende jaar in Januarie in Kaapstad sou plaasvind, is ook afgelas.
“As ’n mens kyk na die inkomste van ongeveer AU$40 miljoen wat in Melbourne, Australië, bestee is gedurende die Internasionale Melbourne Cup, is die afstelling van die wedren ’n groot verlies vir die bedryf asook vir die stad Kaapstad.”
Die uitvoer van perde verdien ongeveer R250 miljoen per jaar en met ’n verbod op uitvoer kan die verlies meer as R500 miljoen wees. Indien die geskatte inkomste van die internasionale wedren bygetel word, beloop die geraamde verlies sowat R600 miljoen.
King sê die opskorting van uitvoer raak alle diensverskaffers wat by die uitvoerbedryf betrokke is. Daar is wel ’n moontlikheid om met lande buite die Europese Unie ooreenkomste aan te gaan vir die uitvoer van perde in die winter wanneer die risiko klein is, sê sy.
Tans is daar egter geen sulke ooreenkomste nie. ’n Lang verbod op uitvoer raak veral die sake van die telers aangesien ’n derde van die perde wat jaarliks op die nasionale jaaroud-renperdveiling verkoop word, deur oorsese kopers gekoop word. King sê dié kopers gaan nou lugtig wees om perde in Suid-Afrika te koop.
9 Mei 2011