Die prys van diesel daal Woensdag (6 Oktober) met 3c/liter, terwyl petrol tussen 4c/liter en 5c/liter duurder sal wees, sê die Departement van Energie.
Luidens ‘n berig op Fin24.com sê die departement die pryse van petrol, diesel en paraffien het tussen 27 Augustus en 30 September, die bepalende tydperk, gestyg.
Die departement het ook onlangs ‘n styging van 8,5c/liter vir kleinhandelpryse van petrol in petrolprys-strukture goedgekeur. Dié styging sal vanaf 6 Oktober geld.
Sterk rand goeie nuus vir komende maande
Intussen sê mnr. Dawie Roodt. ekonoom vir die Efficient-groep, die moontlikheid van petrol- en dieselprysdalings in die komende maande voor die Kerstyd is moontlik. “Die rand is tans sterk, soos almal weet, en dit sal na verwagting vir ‘n tyd lank op dié vlakke beweeg.”
Die wisselkoers het die afgelope week tot op R6,94 teenoor die dollar versterk.
Oktober se pryse is bereken op ‘n rand/dollar-wisselkoers van rondom R7,15 en ‘n internasionale olieprys van $74 per vat. Roodt sê hoewel die olieprys tans op vlakke van tussen $78 en $80 per vat verhandel, kan brandstofpryse vir die komende maande op vlakke van rondom R7,00 bereken word.
4 Oktober 2010