
Die nasionale polisiekommissaris, genl. Riah Phiyega, beoog om die publiek se emosies oor plaasmoorde te bestuur deur middel van ’n nasionale plan wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens van stapel gestuur sal word.
Sy het na aanleiding van navrae van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) gesê: “Ons moet vasstel wat mense se emosies oor plaasmoorde aanvuur. Is dit dít wat hulle in die koerante lees of dat hulle werklik nie veilig voel nie?”
Mnr. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is kommerwekkend dat die Polisie uitgebreide terugvoer kan gee oor die inhoud van sy landelike veiligheidsplan, maar nie kan aandui tot watter mate dit toegepas word nie. “Genl. Phiyega het gesê dat plaasmoorde nou minder as voorheen is, en sy het daarop gesinspeel dat dit gevolglik nie so erg is as wat mense dink nie,” sê Roets.
“Die feit dat misdaad van ’n buitengewone hoë voorkoms na ’n ietwat laer ekstreem afgeneem het, beteken nie dat dit opgelos is nie. AfriForum se ervaring is dat die wreedheid van plaasmoorde toeneem, maar genl. Phiyega het geen melding gemaak van die brutaliteit van plaasmoorde nie.”